Diegene wat Jesus Christus nie ken nie, kan moontlik waarde vind in die volgende sinnebeeld:

 

 

ʼn Koning wou kyk hoe dit in sy koninkryk gaan. Hy het hom toe soos  ʼn bedelaar aangetrek en op die stadplein gaan sit om sy onderdane dop te hou.

 

Dit was duidelik dat hulle ʼn inhalige bose klomp was. Hulle het mekaar verneuk, besteel en die weerloses genadeloos uitgebuit; en vir die koning, vermom as ʼn bedelaar, was daar geen medelye nie. Hulle het hom gevloek, op hom gespoeg en hom rondgeskop.

 

Deur dit alles het hy niks gesê nie. Hy het stil gebly … en notas gemaak.

 

Terug in die paleis het hy sy koninklike kleed aangetrek, op sy troon gaan sit en die skuldige onderdane een vir een ingeroep en aangespreek:

 

“Laat dit bekend wees dat ek in my koninkryk geregtigheid sal handhaaf en geen misdaad ongestraf sal laat nie. Die bedelaar wat jy op die stadsplein met soveel minagting behandel het, was nie ʼn bedelaar nie. Dit was ek, jou koning. Ek het jou dopgehou. Jy is skuldig aan die volgende oortredings” - waarop die koning sy misdade aan hom voorgehou het.

 

Hierna het die koning sy diensknegte beveel om die strafbank te bring vir - kom ons sê - dertig houe met ʼn rottang.

 

Die koning het hierna die skuldige onderdaan gevra of hy hom as sy koning aanvaar - wat die veroordeelde benoud bevestig het.

 

En toe, tot die onderdaan se verbasing, het die koning self op die strafbank gaan lê; en nadat die straf volbring was, het die koning opgestaan en sy verblufte onderdaan aangespreek:

 

“Die straf vir jou misdade is volledig betaal. Jy is vry. Gaan en sondig nie meer nie … en weet dat Ek jou lief het.”

 

 

 

Christenskap in 'n neute dop

 

 Vyande van die Christendom gee voor dat mense Christene word omdat hulle swakkelinge is. Niks kan verder van die waarheid af wees nie. ʼn Duidelike getuienis hiervan is Christenmartelare wat oor duisende jare heen die dood verkies het, eerder as om hul verhouding met Jesus Christus prys te gee.

 

 Desnieteenstaande is elke mens, of hulle dit weet of nie, in ʼn haglike situasie sonder Jesus Christus. Indien Jesus Christus nie jou Verlosser is nie, gaan jy self vir jou sondes betaal. Hieruit red God ons. In Psalm 103 verse 10 tot 13 is geskryf:

 

 “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ʼn vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees.”

 

 Jy kan die slegste mens in die wêreld wees en as jy Jesus Christus as jou Verlosser aanneem, is jy gered. In 2 Korinthiërs 5 verse 17 tot 19 staan geskryf:

 

“Daarom, as iemand in Christus is, is hy ʼn nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword. En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het, naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.” 

 

 Hierdie gawe is verniet. Jy kan dit nie verdien of met goeie werke bekom nie. Jy ontvang dit uit genade alleen. In Openbaring 21 verse 6 en 7 staan geskryf:

 

“Aan die dorstige sal Ek gee uit die fontein van die water van die lewe, verniet. Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ʼn God wees, en hy sal vir My ʼn seun wees.”

 

In Jesaja 55 verse 1 tot 3 is geskryf:

 

“O almal wat dors het, kom na die waters; en wie geen geld het nie, kom, koop en eet; ja, kom, koop sonder geld en sonder prys, wyn en melk! Waarom weeg julle geld af vir wat geen brood is nie, en julle arbeid vir wat nie kan versadig nie? Luister aandagtig na My en eet die goeie, en laat julle siel hom in vettigheid verlustig. Neig julle oor en kom na My toe, luister, en julle siel sal lewe; Ek wil met julle ʼn ewige verbond sluit: die bestendige genadebewyse van Dawid.”

  

 En aan diegene wat swaar kry, belowe Jesus Christus in Matthéüs 11 verse 28 tot 30:

 

“Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”

 

Daar is geen beperking op die genade wat God deur Jesus Christus aan ons skenk nie. In Matthéüs 18 vers 21 en 22 wou Petrus weet hoeveel keer ʼn mens iemand moet vergewe, waarop Jesus se antwoord sinspeel dat dit onbeperk is:

 

“Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe? Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.” 

  

Goeie werke

 

Ander gelowe van die wêreld gee voor dat die mens deur goeie werke gered word - wat nie waar is nie. Slegs ʼn perfekte mens, wat nooit gesondig het nie, sal op grond van goeie werke gered word. Buiten Jesus Christus, bestaan daar nie sulke mense nie. In 1 Johannes 1 verse 8 tot 10 staan geskryf:

 

“As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig. As ons sê dat ons nie gesondig het nie, dan maak ons Hom tot ʼn leuenaar en is sy woord nie in ons nie.” 

 

Daar is gevolglik net één pad na verlossing. Dit is deur Jesus Christus, wat in ons plek vir ons sondes betaal het. In Johannes 14 vers 6 is geskryf: 

 

“Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

Wonderwerke

 

 Hoe vereenselwig ʼn mens jouself met die wonderwerke in die Bybel, wat skynbaar met die werklikheid geen verband hou nie? Hoe is dit moontlik dat iemand uit ʼn maagd gebore kan word? Dat mense uit die dood opstaan? Dat daar aan ons voorgehou word dat ons vir ewig sal lewe?

 

Hierdie skrywer se eie getuienis hieroor is:

 

Ek het dit as wensdenkery beskou, waarmee ek myself nie kon vereenselwig nie, totdat ʼn studentevriend my wou bekeer. Ek het sy herhaalde pogings ongeskik verwerp, totdat hy een middag by die deur ingeloer en gevra het of hy my ʼn vraag kon vra:

 

“Dink jy Jesus Christus was ʼn wyse man?”

 

 Met my sondagskoolkennis was daar by my geen twyfel nie.

 

“Ja” het ek geantwoord, waarop hy my uitgedaag het:

 

“Is dit dan nie ʼn sinnelose daad om, as jy net een lewe het, jouself op drie en dertig jarige ouderdom te laat doodmaak nie?”

 

 Sy woorde het my soos ʼn hamer tussen die oë getref. Ek het geweet dat Jesus Christus die waarheid verteenwoordig. Die integriteit van sy lewe getuig onweerspreeklik daarvan. Op daardie oomblik het ek besef dat elke woord wat Jesus Christus gesê het oor wat ná hierdie lewe kom, ook waar moet wees.

 

ʼn Voorbeeld is toe Hy tussen twee misdadigers gekruisig is. Die een het hom gesmaad en gesê: “As U die Christus is, verlos Uself en ons”, waarop die ander een geantwoord het: “Vrees jý ook God nie, terwyl jy in dieselfde oordeel is? - ons tog regverdiglik, want ons ontvang die verdiende loon vir ons dade, maar Hy het niks verkeerds gedoen nie.” Onder die indruk dat niks hom meer kon red nie, het dié misdadiger aan Jesus gesê: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Waarop Jesus geantwoord het: “Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”   

 

Jesus se woorde moet dan waar wees!

 

 Ek het Jesus Christus van daardie oomblik af nie meer beskou as net ʼn mens wat 2000 jaar gelede geleef het nie, maar volgens sy uitsprake, as God wat aarde toe gekom het om Homself te offer om ook vir my te red! My verhouding met die HERE het op daardie oomblik begin en my lewe handomkeer verander!

 

So hoe leer ʼn mens vir Jesus Christus ken? Lees jou Bybel. Begin by die Nuwe Testament en lees elke dag ʼn hoofstuk. Jy sal sien dat Jesus Christus die waarheid is.

 

Weet ook dat ʼn mens jouself nie tot bekering kan bring nie. Dit is die HERE wat dit doen. Bid dat Hy jou daartoe sal lei.

  

As jy Jesus Christus as jou Verlosser aanvaar het, sal die Heilige Gees in jou hart wees. Hy sal jou lei en onderrig. Luister na Hom. In Johannes 14 verse 26 tot 27 is geskryf:

 

“... die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.” 

 

Gebed

 

Gebed is ʼn gesprek met God en Jesus Christus, net soos jy jou hart met ʼn liefdevolle aardse vader sou deel. As jy nie weet wat om te bid nie, wees net stil voor die HERE. Die Heilige Gees sal vir jou bid. In Romeine 8 vers 26 staan geskryf:

 

“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.”

 

Dankie HERE dat U, U met ons bemoei en ons uit liefde red.